Wie is ons? Produkte Selmateriaal Kainos Akademie Neem Jesus aan Getuienisse Kainos konsultante Tuisblad Vind Kruiskyk TV Kainos tv reekse

 Getuienisse

Ons prys God vir baie mense se genesing, bevryding en vernuwing in ons gemeente! Hier onder is maar 'n paar getuienisse waarmee ons eer wil bring aan God vir sy genade en liefde. Dis ook 'n bevestiging van die feit dat God werklik vandag nog mense genees, as ons tot Hom nader met 'n nederige, maar gelowige hart!

Vanaf Junie 2008, het Jesus talle mense genees van  uiteenlopende siektetoestande - ernstige hittegloede, seer arms, gewrigte en bene, artritis, hartprobleme, diabetes, om maar 'n paar op te noem. Een persoon se inflammasietelling (rumatiese artritis), het na gebed, spesifiek daarvoor, gedaal van 25 tot 5 (normaal), en sy het die mediese uitslae om dit te bewys! Jy's ook genooi vir jou aanraking!

God se teenwoordigheid is 'n genesende teenwoordigheid!

Ware geloof vir genesing begin funksioneer wanneer jy begin besef dat dit Jesus is wat genees!

 

My getuienis van God se aanraking

Ek is ongeveer 8 jaar gelede gediagnoseer met 'n baie seldsame beenkanker. In Suid Afrika was daar net nog 4 gevalle gewees. Ek is die 5de persoon waarvan hulle weet. Weens die onbekendheid van die kanker, is die informasie en behandeling daarvan baie beperk. Die dokters kon ook nie vir my sê wat die lewenstydperk is nie. Die onsekerheid van alles was vir my die ergste.

My rooibloedselle het my witbloedselle vernietig. Die suurstof in my liggaam het al minder begin word. Die dokters het met enige soort behandeling begin wat hulle gedink het kon help. My gesondheid het baie agteruit begin gaan. Ek het geen energie en krag gehad nie, en dit was so erg dat ek nie eens uit die bed kon opstaan nie. In 2007 moes ek weer vir my normale roetine ondersoeke gaan. Die bevinding was dat my blaas, niere en maag al aangetas is. Hulle het ook gifstowwe in my bloed gekry, en daar was 'n tekort van COQ10 en NAD in my liggaam. My senuwees van my skildklier is aangetas en dokters het ook silkosis in my longe ontdek. Daarby het die dokter vir my gesê dat my byniere, oë en beenmurg onder baie druk is. Die dokters het weer nuwe medikasie voorgeskryf wat ongeveer 16 pille 'n dag was.

Ek het net een oggend wakker geword met die besef dat  niks onmoontlik is by God nie. As ek genees moet word, dan sal dit net die wil van God wees – die mediese wetenskap kon vir my nie veel meer doen nie.

Ek het twee maal vorentoe gegaan vir gebedsbediening tydens die erediens, en my geloof op God geplaas. Ek het besef dat daar sonder geloof in God niks sou gebeur nie. In Julie 2008 was ek weer by die dokters vir verdere ondersoeke, en my toestand het sodanig verbeter dat die dokter my van alle medikasie afgehaal het! Ek drink geen medikasie vir die kanker meer nie, en dit gaan elke dag beter en beter met my. Ek het hope energie, en voel soos ‘n nuwe mens.

Saam met God kan ons alle terugslae, siekte en teenspoed oorwin! Vir God is niks te veel of te groot nie, en ek loof Hom vir sy groot liefde. Plaas net jou geloof op God, Hy staan gereed om jou te help.

Eunice van Niekerk

 

My getuienis van genesing

In Februarie 2008 is ek gediagnoseer met gordelroos in my gesig waar die dokter gesê het dit sal nooit genees nie. Ons het teen die vonnis bly bid.

Dit het versprei tot bo-op my kop waar dit geweldig gebrand en gepyn het. Ek het gehuil van pyn en my mond het met tye gewater van die pyn.

Op 16 November 2008 het ek tydens die bedieningstyd vorentoe gegaan vir gebed. Onder gebed het ek onmiddellik ’n tinteling op my kop begin ervaar en die pyn het geleidelik begin afneem.

Die Woensdag daarna het ek ‘n afspraak gehad by ‘n dermatoloog. Hy het bevestig dat daar geen teken van die roos is nie. Ek loof die Here vir sy wonderwerkende krag elke dag.

Dit is amazing hoeveel keer dokters 'n vonnis uitspreek, daar moet 'n wet daarteen wees. Laat hierdie getuienis toe om geloof in jou hart te werk vir jou eie genesing.

Liefde

Adri Taljaard

 

My getuienis van genesing

Ongeveer 3 jaar gelede het my skouer begin probleme gee. Nege maande later het ek gegaan vir X-Strale wat aangedui het dat ek verkalking in die skouer het.

Dit was baie pynlik en ek kon glad nie my skouer gebruik nie. Een Sondag so min of meer in die helfte van die jaar het ek vorentoe gegaan vir bediening. Nadat vir my skouer gebid is, sit ek op 13 Augustus by die werk, en skielik besef ek dat ek geen pyn voel nie, en dat ek ook geen pyn gehad het terwyl ek geslaap het die nag nie! Die kroniese pyn het veroorsaak dat ek nooit op my skouer kon lê en slaap nie.

Ek het opgestaan en my arm in die rondte begin draai – iets wat ek vir baie lank nie kon doen nie. Dis nou 5 maande later en ek kan steeds my skouer gebruik. Ek staan daagliks steeds vas in my genesing.

Alle eer kom aan God toe vir my genesing! Sy liefde is so groot, ek kan Hom nie genoeg bedank daarvoor nie.

Hanlie Basson

 

My getuienis 

Ek het 26 jaar gelede die wonderlike nuus gekry dat ek swanger is.  Ek was 3 maande swanger toe ek 'n bloedklont in my linkerbeen gekry het.  Dank die Vader, want Hy het my geseën met 'n pragtige gesonde baba wat nie deur die bloedklont geaffekteer is nie.  

Met die jare wat aangestap het, het ek 'n spataar in my linkerbeen ontwikkel a.g.v. die kleppe wat beskadig is en die swak bloedtoevoer.  My been het al hoe meer begin pyn en erg geswel, sommige dae kon ek nie eers op my been trap nie. Ons het ongelukkig nie 'n mediesefonds nie en ek het na maande se gewag 'n afspraak by die Pretoria Akademiese Hospitaal gekry.  Na nog 'n paar maande se wag is die teater vir my bespreek om die aar te verwyder.  'n Dag voor die operasie het die hospitaal geskakel om te sê hulle het nie plek vir my nie.  Ek was baie teleurgesteld en moedeloos. Min het ek geweet dat God ‘n beter plan in gedagte het!

Kort daarna het Dr. Jurie een Sondag tydens die diens gevra wie het pyn en dat ons ons hande op die plek moet sit waar die pyn is.  Ek het my hand op my been gesit en saam gebid. Hy het gesê ons moet vorentoe gaan. Onder gebed het ek die Heilige Gees se genesingskrag deur my been voel gaan.  Ek het geweet, geglo en vertrou dat God my been aangeraak het en dit gesond is. Van daardie Sondag af (seker 5 mnde gelede) het my been nog nooit weer geswel of gepyn nie.

Alle eer aan ons Here vir sy groot liefde! Hoe groot is ons GOD!!!

Halleluja!!

 Nicoline Steenkamp

  

My Getuienis  

 Ongeveer 3 jaar het gelede het Dr. Jurie vir my gebid vir 'n vergroeisel aan my vrouedele wat ontstaan het na die histerektomie wat ek ondergaan het. Ek het gedurig pyn ervaar in my buik, maar na die gebed het ek nooit weer enige las of pyn gehad nie. 'n Roetine ondersoek by die ginekoloog vroeër die week (Jan 2009) het bevestig dat daar geen vergroeisel meer is nie.  Ek prys die Here se Naam vir my genesing!!! 

Groot is sy genade!!

 Helena de Wet

 

Kyk hoe groot is die liefde van God!